 |
16 April 2010 |
|
Wat jy verwag is nie altyd wat jy kry! |
|
Jan Steyn |
|
Oom Klaas Koringkorrel bly olik, die doktertjie het hom
keer op keer van kop tot toon ondersoek, maar te
vergeefs. Raadop gee hy toe vir oom Koringkorrel ‘n leë
glasbotteltjie en sê: “Oom, bring asseblief môre vir my
‘n semenmonster.” |
|
Die volgende oggend kom oom Klaas daar in, maar die
botteltjie is leeg. “Oom,” vra die doktertjie; “waar is
die monster dan?” |
|
“Nee ou seun,” seg oom Klaas Koringkorrel, “eers het ek
met die linkerhand probeer, toe weer met die regterhand.
Daarna het die vrou met haar linker en regterhand
probeer… maar ai ou seun, ons kry niks reg nie. Later
het die vrou met haar mond probeer. Eers met en toe
sonder tande. Einde ten laaste het ons die jong
buurvroutjie gevra om te probeer. Sy het altwee haar
hande gebruik, onder haar armholte, dit selfs tussen
haar knieë probeer…!” |
|
“Haai oom!” roep die doktertjie geskok uit. “Oom kon dìt
mos nie van haar verwag nie!” |
|
“Ai ou seun, ons het mos geen keuse gehad nie, ek en die
ou vrou was al radeloos. Jy het dan so mooi gevra vir ‘n
monstertjie en ons twee hèt toe al als probeer, maar
selfs die buurvroutjie kon nie die botteltjie se deksel
afskroef nie!” |
|
Ja, ek het jou lekker gevang met Oom Klaas Koringkorrel
se botteltjie storie! Wys mos net weer, wat ‘n mens
verwag is nie altyd wat jy gaan kry nie. Vat nou maar
die invoertarief as ‘n voorbeeld. Almal het verwag dat
daar teen die tyd al ‘n lekker vet invoertarief ingestel
sou wees, maar tot dusver is daar nog geen teken nie.
Planttyd is op hande en die koringprys is nog steeds te
laag om ons insetkoste te dek. |
|
Sondag het ek met Andries Theron van Graan SA gesels. Hy
sê hulle kry geen terugvoer van regeringskant nie. Dit
kom voor of die regering se deure voor hul toegeklap
word. Die Minister van Landbou maak geluide van
broodpryse wat te hoog is, nou wie dink sy moet ons
daarvoor bedank. Beslis nie koringprodusente nie! Hulle
kan nie eens hulle eie produk se prys vasstel nie, het
in teendeel geen invloed hoegenaamd op die brood se prys
nie! |
|
Terug na die invoertarief. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit
dat ons of vandag of voor volgende Vrydag sal hoor en
die voëltjie is positief dat ons iets sal kry. Maar kyk
ons na die mark, dan sien ons nog nie ‘n teken dat die
voëltjie se fluit enigsins gewig dra nie. |
|
Aan die anderkant het die prys wegbeweeg vanaf die R2100
vlak op na R2150 vlakke. Kan dit wees dat daar slegs ‘n
klein tarief ingestel gaan word en die mark dit met R50
in berekening bring? Of is die kopers ook maar net so
onseker soos ons? Indien eersgenoemde wel die geval is,
dan sal ons volgende week die mark mooi moet dophou.
Styg die prys vinnig met nog so ‘n R50 of wat, dan moet
ons maar van ons koring verkoop. Want indien die tarief
laer is as wat die mark verwag, kan ons dalk weer ‘n
daling in pryse sien. |
|
My vriend Gieter Spekskieter, het so pas hier ingeloer.
Hy is hoogs geleerd op tegniese analiese, ‘n wyse man.
Gieter sê dat die tekens daarop dui dat die
Desemberkoringkontrak besig is om van sy laagtepunt weg
te beweeg opwaarts. Hy praat van pryse tussen R2300 en
R2400 vir Desember. Maak jou som en kyk of jy daarvoor
kan koringsaai. Soos Gieter se laaste naam aandui kan hy
geensins verantwoordelik gehou word vir sy praatjies
nie, die prys kan hoër of laer wees voor die einde van
die jaar! |
|
Nouja, fluit-fluit my storie is na amper vyf jaar uit! |
|
Ek gaan weg van BKB GrainCo na ‘n ander maatskappy in
dieselfde bedryf en gaan daarmee saam ook weer voltyds
boer. Dit is dan die laaste Koringrubriek van my kant.
Baie dankie vir jou as leser se geduld met al die onsin
wat ek kwyt geraak het. Sterkte met die planttyd wat
voorlê en moed hou. Ons is mos trots Koringboere, die
wiel sal weer in ons guns draai! |
 |
  |